Saturday, July 9, 2011

as woorde goud word... #Afrikaans

Ek skryf nie baie in Afrikaans nie, maar hierdie een kan maar net in die taal gedoen word. Een van die verpleegsters by die versorgingsoord vir my ma het nou net gebel en die foon vir my ma vasgehou (sy kan dit nie meer self hanteer nie). Dit was 'n moeilike dag vol trane vandag.

En haar woorde word soos goud wat ek opvang soos kosbare vloeistof om te bewaar in my hart. Ek skryf dit kripties neer soos sy praat, want ek moet dit berg vir later, wanneer sy stil word. My ma se woorde word daagliks minder. Sy verloor pragtige Afrikaanse woordeskat en eie uitdrukkings soos 'n waterval wat oor 'n afgrond stort en wegsyfer in die sandbanke. 

Maar vandag het sy met my gepraat en ek met haar - oor die son wat skyn in die Kaap en oor kinders aanneem ("jy moet een maar 'aanbied'", stem sy saam). En ek herhinder haar ek sal gou weer kom kuier, en sy is helder om te bevestig "ons sal mekaar weer weer..." (sien) - die laaste woord bly weg, en ek voltooi die sin in my hart. Ons praat oor almal wat sy ken (of geken het) en diep in my hart weet ek eintlik hierdie woorde en name is ook besig is om te verdwyn saam met my eie. Maar ek vertel haar almal is gelukkig en noem haar suster, haar seun en skoondogter - en haar huishulp (en beste vriendin vir baie jare). Sy noem dat Nellie vandag daar was, en ek wonder of dit so is. Sal tog bel en uitvind. Volgende keer ander name, ander mense wat haar woorde soos goud vashou soos ek.

Ek vra haar of almal "happy" is daar, en of hulle mooi kyk na haar (met innige dankbaarheid vir die verpleegster wat die moeite gedoen het om te bel). "Is almal happy?" giggel sy skielik, bly 'n oomblik stil en voeg dan 'n liefdevolle goue frase by net vir my, "aaag, my kind!"... Sy onthou my :)

Moeks, ons sal mekaar "weer weer" ... 

blog comments powered by Disqus

Follow my Blog

News from our Company

Tell Others about This Blog

Bookmark and Share

  © Blogger template 'Neuronic' by Ourblogtemplates.com 2008

Back to TOP